1. Aanvaarding deur die verkoper van ‘n aanbod wat onderworpe is aan ‘n opskortende voorwaarde, met ander woorde, die verkryging van ‘n verband en/of die verkoop van die koper se bestaande eiendom, beteken dat die verkoper se eiendom effektief van die mark afgehaal word in afwagting van voldoening deur die koper van sodanige opskortende voorwaarde/s.

2. Dit mag die geval wees tydens ‘n periode wat die aanvraag vir eiendomme hoog is. Deur die eiendom van die mark af te haal, mag later deur die verkoper betreur word indien die opskortende voorwaarde/s nie aan voldoen word nie en die verkoper ‘n gulde geleentheid verbeur het om die eiendom moontlik aan ‘n derde party te kon verkoop

3. Sou die koper nie daarin slaag om aan die opskortende voorwaarde/s te voldoen voor of op die afsny-datum nie, verval die koopooreenkoms en is van nul en gener verdere waarde. Dit kan nie daarna herleef by ooreenkoms tussen die partye nie. Enige ooreenkoms vir verlenging van die opskortende voorwaardes moet gesluit word voor die afsny-datum.

4. Dit is waarom die voorafgedrukte “Aanbod om te Koop”-vorms van die meerderheid eiendomsagentskappe voorsiening maak vir voortgesette bemarking (“continued marketing”) van die verkoper se eiendom in afwagting van voldoening deur die koper aan die opskortende voorwaarde/s. Sou ‘n tweede, beter aanbod ontvang word as gevolg van sodanige voortgesette bemarking, wat die verkoper van voorneme is om te aanvaar, is die verkoper geregtig om aan die koper wat die eerste aanbod gemaak het skriftelik kennis te gee om binne 72 uur (of 3 dae) óf te voldoen aan die opskortende voorwaardes óf om daarvan afstand te doen

5. Ingeval van:-

5.1 voldoening aan of afstanddoening van die opskortende voorwaarde/s deur die eerste koper binne 3 dae, word die eerste aanbod om te koop onvoorwaardelik en kan onmiddellik voortgegaan word met die transaksie;

5.2 versuim deur die eerste koper om óf aan die opskortende voorwaarde/s te voldoen óf om daarvan afstand te doen binne 3 dae, mag die verkoper die eerste aanbod as van nul en gener verdere waarde beskou. Die verkoper is dan geregtig om die tweede aanbod te aanvaar wat gewoonlik ‘n onvoorwaardelike aanbod is maar nie noodwendig so nie. Daar kan dan dadelik voortgegaan word met die oordragproses.

Spesifiseer ‘n domicilium-adres vir vinnige aflewering van kennisgewings

(i) Die 72-uur (of 3 dae) kennisgewing moet vinnig afgelewer kan word. Dit kan verseker word deurdat die partye hulle onderskeie e-pos adresse as hulle gekose domicilium-adresse gebruik.

(ii) In sodanige geval kan aflewering binne die bestek van ure indien nie onmiddellik nie, geskied. Andersins, indien ‘n 72-uur kennisgewing per geregistreerde pos na ‘n woonadres gestuur moet word en 4 dae vir aflwering toegelaat moet word, word die 72 uur (3 dae) proses ‘n uitgerekte oefening. Daar bestaan dan ook die kans dat die geadresseerde nooit die kennisgewing ontvang nie wat later aanleiding mag gee tot argumente en selfs duur en tydrowende litigasie.

Die voorafgaande is ‘n vereenvoudigde verduideliking van die uitwerking van ‘n 72-uur klousule, die bewoording waarvan uiters belangrik is weens die tegniese aard van korrekte uitvoering daarvan. Daarom sal dit wys wees indien partye toepaslike regsadvies inwin voordat ‘n aanbod wat ‘n klousule vir voortgesette bemarking of ‘n 72-uur klousule bevat, gemaak of aanvaar word.