1. As verkoper het u die eksklusiewe reg om u eie prokureur (of ten minste die prokureur van u keuse) te nomineer vir die oordrag van u eiendom. Die koper of die eiendomsagent moet nooit toegelaat word om dit namens u te doen nie omdat dit u posisie as verkoper kan benadeel indien ‘n dispuut tydens die oordragproses sou ontstaan.

2. Die koper van u eiendom is verantwoordelik vir betaling van al die oordragkoste. U reg om die oordragprokureur te kies, spruit voort uit die feit dat u die grootste risiko verbonde aan die verkoop en oordrag van u eiendom dra. Dit is belangrik dat u nie toegee aan enige druk om die koper se prokureur te gebruik nie, veral nie wanneer so ‘n versoek gemotiveer word deur afslag op die oordragkoste of familieverbintenisse nie. Dit kan potensieel aanleiding gee tot ‘n onbevredigende uitkoms van die oordrag.

3. Wanneer ‘n eiendomsagent ‘n aanbod om te koop (“OTP” – offer to purchase) van ‘n potensiële koper aan u voorlê vir oorweging, maak seker dat ‘n prokureur van u keuse die aanbod vir u nagaan om slaggate tydens die oordragsproses te vermy en toe te sien dat u regte te alle tye beskerm word. Sodoende kan potensiële duur vertragings met die oordragproses vermy word. Indien ‘n dispuut gedurende die oordragsproses tussen u en die koper (of die eiendomsagent) mag ontstaan, het u gemoedsrus dat u prokureur met dringendheid in u beste belang sal optree.

4. Indien die koper se prokureur toegelaat sou word om oordrag van u eiendom te behartig en ‘n dispuut ontstaan, kan sodanige prokureur moontlik huiwerig wees om teen sy eie kliënt op te tree as gevolg waarvan u belange benadeel mag word. In praktyk lei dit dikwels daartoe lei dat ‘n verkoper onafhanklike regsadvies moet inwin by die prokureur wie in die eerste plek deur die verkoper aangestel moes gewees het vir die oordrag. Deur ‘n prokureur van u keuse aan te stel, verseker u dat u gedurende die proses bykans onbeperkte regsbystand sal geniet.

5. Indien die eiendomsagent ‘n prokureur aanbeveel wat op die agentskap se “paneel” is of omdat die agent of agentskap “net met ‘n sekere prokureur werk” of omdat hy/sy “vinniger” is as ander prokureurs, moet u steeds nie van u reg afstand doen om die prokureur van u keuse aan te stel nie. Indien ‘n dispuut tydens die proses of daarna tussen u en die agent ontstaan, kan aanvaar word dat die agent se voorkeurprokureur huiwerig mag wees om u regte met die nodige dringendheid te beskerm of te bevorder.

6. ‘n Eiendomsagent word uitdruklik verbied om u te oorreed of te beïnvloed om ‘n bepaalde prokureur van sy/haar keuse te gebruik en met goeie rede. Die gedragskode van toepassing op Eiendomspraktisyns (“PPRA”) verbied hierdie tipe optrede. Slegs indien ‘n verkoper ‘n eiendomsagent uitdruklik versoek om ‘n prokureur aan te beveel, sal die eiendomsagent verplig wees om ‘n minimum van 2 prokureurs voor te stel waaruit die verkoper kan kies.

7. In terme van die sogenaamde 72-uur klousule kan ‘n koper se aanbod wat aanvaar is, onderworpe aan ‘n opskortende voorwaarde dat die koper verbandgoedkeuring kry of sy/haar eiendom verkoop binne ‘n sekere tydperk, vervang word met ‘n tweede en beter aanbod indien die aanvanklike aanbod daarvoor voorsiening sou maak. Dit beklemtoon net weereens hoe belangrik dit is om u eie prokureur aan te stel om die aanbod te hersien en om seker te maak dat dit die nodige klousules bevat wat sal toelaat dat bemarking voortgesit kan word tot tyd en wyl die koper verband goedkeuring ontvang het of sy/haar huis verkoop het.

(Bogenoemde is bloot ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as regs- of ander professionele advies gebruik of staatgemaak word nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd jou regsadviseur vir spesifieke gedetailleerde advies of kontak ons vir verdere hulp.)

Book your free 30 minute consultation valued at R1 200 over the phone or at our office now

Phone: 028 313 0136

Cell: 064 859 0006

Email: theresa@lbvorster.co.za

Address: Suite 24/25, Upper Floor

Astoria Village, Main Road

Hermanus